Elke saak het drie kante

Sterretjie:

Dis laat Oktober in die Gobobos en die winter wil nie laat los nie. Die veld is vaal en baie kaal na die lang droogte. Met my kop omlaag, soekend na ‘n weggesteekte krieseltjie saad agter die klippe, volg ek my trop.

My trop bestaan op die oomblik nog net uit my ma en pa en myself. Hopelik binnekort sal ons twee meer wees. My ma se lyf is al aansienlik ronder van die nuwe vul wat sy dra, en ek voel self die vreemde volheid en gewig van my eerste vul in my.

Vandag se dik westelike mis bring groot verligting vir die veld. Die grassies proe sommer varser en sagter. Sommer nou die dag nog het ek baldadig in ons bekende voetpaadjies afgetrippel. Laf en kinderlik – my swart en wit strepe blinkend in die son. Honger en dors was nie ‘n probleem nie, want ma se speen was sommer byderhand.

Nou dat ek groot is verstaan ek eers die pyn van ‘n leë maag. Water is net elke 2de of 3de dag beskikbaar waneer ons die lang roete tot by die Ugab voltooi. Elke dag dieselfde – ons drink ons pense trommeldik en wei vir ‘n rukkie teen die rivier af, en dan weer die lang pad om die Gobobosberge, Op teen die suidelike kant, weswaarts agterom, en dan by die laaste berge weer noord na die Ugabrivier. Ons wissel die paadjies wat ons stap af om die bossies op ons weipad kans te gee om te herstel. En natuurlik ook vir veiligheid. Veiligheid is ook die rede dat ons altyd aanhou beweeg.

Die mense op die kop by die laaste berge pla my lankal nie meer nie. In die begin was ek skrikkerig vir hul vreemde reuke en geluide, maar nou stap ons sommer hier teen hul kamp verby. Hulle is nie ‘n bedreiging nie. Ook nie hul hond Sheela nie – sy blaf soms ‘n groet as ons verby stap.

Vandag is ek haastig vir die rivier – daar lê nog baie ure se stap voor, maar ons het 3 dae laas gedrink. Met my en my ma wat altwee dragtig is, stap ons stadiger en wei langer. Dankie tog vir die mis vandag …

Angela:

Vandag voel ek my ouderdom in my bene en my tande. Ek weet my dae raak min, maar wat gaan ek doen omtrent my klein troppie?

Die jong wyfies kyk na my met vrae in hul oë. Elkeen in die trop se ribbes wys, selfs die 2 welpies moes vinnig groot word en leer om saam te jag. Lank voor hul tyd. Hul ma is self nog ‘n jongeling – sy het nog nie eens haar babakolle ontgroei nie.

Die droogte het almal geknou en die wild in die Ugabrivier is bitter skaars. In my 17 jaar is dit die ergste ooit. Wat sal ek doen om my trop ‘n kans te gee op oorlewing?

Daar is dalk ‘n plan – maar dis bitterlik gewaagd. As ons faal, sal die kleintjies dit beslis nie weer terug tot by die Ugab kan maak nie. Maar as ons hier bly is dit ook ‘n gewisse hongerdood. Hier is geen wild en oor nog 2 dae sal ons almal te swak wees om enigeiets te kan vang.

Ja, ek gaan vir Doros roep. Vir die plan sal ons hom nodig hê. ‘n Leeumannetjie se gewig en krag sal nou baie nodig wees.

Daar is net een plek hier naby wat ek uit my jongdae onthou waar ons ‘n kans het. Met die laaste volmaan het ons daar gaan recce. Die zebras loop daar en die kloof na die ou fontein is ideaal vir ‘n voorlê. Ongelukkig is daar mense daar naby, maar hierdie is desperate tye.

Ons sal nou dadelik moet begin Gobobos toe beweeg. Met die welpies by is dit ten minste 6 ure se stap tot waar ons die zebras kan terugkeer berge toe. Ons sal hul moet voorkeer voor hul die vlaktes bereik – daar het ons geen kans nie. Nie in ons verswakte toestand nie.

Ons een enkele voordeel – die drietrop zebras was nog nie by die rivier nie – dit beteken hul het 3 dae laas gedrink en sal hopelik vandag oppad wees rivier toe. As ons gelukkig is en opskud kan ons hul met sonsak by die onderste berg voorkeer …

Sheela:

Wat is dit? Wat het my wakker gemaak?

Dis nog donker – ten minste nog 2 ure voor die dag breek. Iets is nie reg nie. Wat ruik ek? O- dis die zebras, maar wat maak hulle nou hier? Hul is vanoggend al hier onder op die vlak verby af Ugab toe. Hoekom is hul so gou terug? En sommer net hier onder die kamp in die kloof!

Daar! Sterretjie se pa proes ‘n waarskuwing! Iets is verkeerd. Groot verkeerd. Die zebras beweeg dan nou na die verkeerde kant toe. Daar is nog iets in die lug … wag dat ek buite gaan ruik.

My hart gaan aan die ruk en my bene word lam en my stert trek sommer self tot teen my maag toe ek die eerste aroma van die DOOD kry! Ek weet nie wat dit is nie, maar dis vreeslik.

Met ‘n vaart draai ek om en breek al die huisreëls as ek sommer bo-op ma in die bed spring. Ek was nog nooit so bang vir iets in my hele lewe nie.

Daar tjank die stroois honde ook nou – hulle hardloop sommer die berge in!

Ma sit regop en luister – sy hou my vas en praat saggies. Aan haar stem hoor ek sy weet ook hier is groot moeilikheid.

Sterretjie:

Die leeus het ons ingewag en nou dryf hul ons al in die kloof op! Ek is so dors en so bang, maar hier is nie uitkoms nie.

Daar is 2 jong wyfies met welpies wat op ons spoor bly. Hul is nie haastig nie en kom stadig nader – maar bly op ons flanke en agter ons. Daar is net een pad en dis vorentoe.

My pa maak ‘n skeinbreek en vir ‘n oomblik fokus die leeus op hom, blitsvinnig hardloop my ma teen die kranse uit voor hul haar kan wegkeer. Ek was te stadig en nou is dit ek en my pa wat vorentoe.

My pa proes waarskuwend en breek weer – in my paniek gly ek en terug in die kloof is daar net een pad – vorentoe … agter my hardloop my pa ook teen die berg uit en ek weet hy is veilig.

Met my laaste krag hardloop ek volspoed teen die opdraende aan die einde van die kloof uit – die wyfies bly agter en ek kry hoop.

Te laat, te laat, daar is nog 2 voor my! Waneer die mannetjie se gewig my afdwing weet ek my vul sal nooit die lig van lewe sien nie.

Angela:

Dit was my laaste les aan my trop. Hulle het weer ‘n kans op oorlewing. Miskien sal die welpies groot word, hulle leer vinnig.

Meraai

PS. Dis met groot jammerte dat ons verneem dat hierdie moontlik Angela se laaste jag was. Sy is kort na die vangs dood in die Ugab aangetref.

PPS. Alhoewel ons nie met sekerheid kan sê of dit wel haar trop is nie – het die trop 4 suksesvolle vangste in Oktober/November in die Gobobos area gehad wat ons van weet.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *