Al die veld is vrolik …

Was dit Opperman wat geskryf het oor Oktober die mooiste maand?

In Damaraland moet jy baie fyn kyk om die bloeisels te sien. Die plante is klaar klein, vaal en redelik onbeduidend vir die wat nie diep kyk en oplet nie, maar as jy moeite doen om naby te kyk – staan jy verstom oor die mikroskoonheid.

Ongelukkig ken ek nie al die plantjies se name nie – maar ek weet dat Paul Cloete hulle almal sal eien. Sodra ek terugvoer van hom kry sal ek die beskrywings by elkeen opdateer.

Die onderste foto wys die vaal vlak waar elkeen van die blomme en plante foto’s geneem is. Op die foto sien jy skaars die plantjies raak, maar ek is seker hul is spesiaal daar geplant om die onbekende grafte te versier.

Almal ken die bekende duwweltjie of dan haar grand naam: Dubbeltjie, Tribulus zeyheri . ‘n Dankbare plantjie wat met die eerste teken van vog geil groei en blom. Sy vrolike geel blommetjies lag heerlik as kaalvoete sy geniepsige dorinkies raaktrap en ergerlik uittrek en weggooi.

Uit persoonlike ondervinding weet ek ook dat daai steekplekkies brand soos vuur.

Ek het geen idee wat hierdie outjie se naam is nie. ‘n Piepklein bossie wat sommer so vaalgroen voorkom – tot jy nader kyk. Elke takkie is oortrek met tientalle fyn wit blommetjies wat elk net ‘n paar millimeter groot is.

Die groen blaartjies is vlesig en oorgetrek met mikroskopiese haartjies om elke druppeltjie vog in die lug op te vang.

Nog ‘n bekende outjie is wat ons sommer “Klokkies” noem is die Sandklokkies of “Desert perfume” .Hulle ruik vreeslik lekker in die aand – maar in die dag het hul geen geur nie. Hulle is nogal ywerige groeiers. ‘n Groter bossie as die ander plantjies op die artikel.

Pragtige wit klokkies op rankerige lang lote. Gewoonlik een van die eerste blommetjies wat mens raaksien.

Die outjie ken ons sommer as die “Kattepis” bossie. As jy aan haar blare vat en dit ruik sal jy weet wat ek bedoel. Maar haar ander naam is Mouse Whiskers.

Ook ‘n langloot bossie met klein vyfpunt blaartjies. Ek het die blommetjies al in geel, oranje en selfs pers en kombinasies van oranje en pers gesien.

Die plantjie het die mooste sagpienk blommetjies. Bitterlik klein. Soos op die laaste 2 foto’s lyk dit ook of sy gewild is onder die insekte. Op die een blaartjie lê ‘n mikroskopies klein vliegie of bytjie haar eiers terwyl ‘n piepklein vlindertjie aan ‘n blommetjie op ‘n ander takkie suig. Haar naam is Adenolobus garipensis of meer algemeen: latjiebos.

Hierdie fyn pienk blommetjie laat my aan ‘n leeubekkie dink. Weereens is die bllartjies vlesig en oortrek met fyn haartjies om maksimum vog uit die lug op te vang. Haar naam is Futerbos met ‘n umlaut.

Hierdie pragtige lila blommetjie het nou omtrent my aandag gevang met die redigering van die foto’s. Sy is bekend as die Bergdistel.

Haar blommetjie lyk soos ‘n skoenlappertjie en die blare is oortrek met fyn druppeltjies gom of resin. Wat ek eers raak gesien het met die opblaas van die foto is die bitterklein vliegie of bytjie op die onder punt van die blommetjie.

Iets aan die blommetjie se gom en kelk laat my wonder of die dalk ‘n gogga-etende plantjie kan wees?

Een van my gunstelinge is hierdie pragtige klein plantjie met sy lieflike pers blommetjies. Haar naam is Aptosimum spinescens of Doring viooltjie.

Weereens die vlesige blaartjies met mikro haartjies.

Die manier waarop hierdie plantjies aangepas is by die droë omstandighede van die klipwoestyn verstom my.

Die mooi in die woestyn is baie – maar soms moet mens laag op die grond kniel of lê om dit raak te sien.

Ek hoor graag van enige iemand wat vir my meer van enige van die plantjies kan vertel.

Vrede tot volgende keer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *