Die 2de Ongeluk

Kyk as daar een ding in ‘n boskamp is wat baie belangrik is – is dit mos die kleinhuisie.

So ent agter ons kamp is daar ‘n mooi toegenette “longdrop” of dan in beter Afrikaans – pitlatrine, maar dis opdraende soontoe en vir somtyds – soos in die nag – net te vêr. Daarom besluit ons toe so paar maande terug om ‘n plekkie nader aan die kamp te maak.

Nou vir die wat nie weet nie, spoeltoilette in die woestyn gebeur nie sommer nie. So die longdrop is die aangewese ding.

Natuurlik werk die stoeltoilet ook as jy alleen is, of ‘n bossie of groot klip het om agter te sit. Hierdie outjie het by ‘n lankal verlate kamp agtergebly. Met ons rondry het ons hom eensaam en verlate gekry waar hy nog waghou. Ons het hom opgetel en saamgebring en nou is hy weer deel van ‘n familie.

Hoeveel strontstories onthou die ou?

Die pitlatrine werk nou so: Eers soek jy ‘n ou 200 liter pedrol of diesel drom. Dan word die bo en onderkant uitgesny. Volgende grou jy nou ‘n diep gat. So diep as moontlik asseblief. Bo-op die een uitgesnyde kant, monteer jy nou ‘n toilet sitplek – of ‘n bril soos dit ook bekendstaan.

Hierdie drom word dan nou in die gat gepas sodat ‘n gemaklike sithoogte bo die grond uitsteek. So bietjie meer as ‘n derde. Die ander twee derdes is nou stewig in die gat en daar staan jou troon.

Volgende stap is nou om die ou privaat huisie so bietjie privaat te kry ook.

Die Meester meet toe ook die plek uit waar ons nuwe gemakshuisie moet opkom. Net so 10 tree regs van die kamp. Amper in lyn met die voordeur. Die gat is gegrou en die drom maakpas en nou vir die privaatheid: “Nee”, sê Vrede – “Dit moet natuurlik en oop wees, dat ‘n ou oor die vlaktes kan staar. Met ‘n muurtjie net hoog genoeg dat niemand onder jou naeltjie kan sien as jy staan nie.”

So gesê, so gemaak. En daar staan die nuwe opelug privaat. Al te fraai.

Soos ek in my vorige artikel genoem het, het ou Murphy mos ook saamgereis op hierdie trippie.

Piet gryp sy kruk en beweeg na die plekkie toe hier helder oordag. Ek dink die vorige aand se oorskiet – wat toe sommer weer met ontbyt voorgesit is – was bietjie geil. Kyk, ek sal nog ‘n skrywe oor ons etes ook moet doen. Vrede is mos ‘n uithaler kok en as daar nog ‘n paar mense ook by is – dan kook hy dat jy jouself in ‘n vervreting in eet.

Elk geval, Piet moes gaan. Soos wat ons mos as opgevoede mense doen as iemand die privaat besoek, kyk ons nou maar anderkant toe. Die nette is mos ook nog half deurskynend, sien. Bygesê was Piet ook nog erg mankoliekerig agv ‘n spinnekopbyt. Vandaar die kruk.

Die volgende oomblik hoor ons ‘n gerammel en ‘n geplof. Piet skreeu ook iets – maar dis onoorvertelbaar. Sheela vlieg op en draf blaffend kleinhuisie se kant toe en onwillekeurig kyk ons almal ook watse aardskudding kom van die plekkie af.

En daar sit Piet ontbloot. Voete in die lug om hul uit die pad van die vallende klippe te hou, met sy broek om sy enkels! Die hele linkerkantste muur het net eenvoudig inmekaar getuimel soos die mure van Jerigo.

Onmiddelik gryp ons so tussen die lag deur die kameras en begin snappies neem. Niemand help vir arme Piet nie – ons lag te hard.

Net Sheela het probeer ondersteun.

Vrede

(Ons vertel annerdag verder)

One thought on “Die 2de Ongeluk

  1. Lag ek nou dat die trane loop. In my geestes oog sien ek hierdie – eers verskrikte gesig – dan die vebasing en dan – half vies half skaam – lag vir julle gatte – deur n gefronste gemompel… en dan die lekker saam lag. Wens ek was daar…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *