Nie elke reis is altyd voorspoedig nie!

Daar val ‘n paar druppels in Uis 2 weke terug – en opslag beplan die Trio ‘n uitgerekte kuier by ons kamp in die berge. Dalk, net miskientjies, is ons gelukkig genoeg om ‘n paar druppels in die woestyn te beleef.

Die Meester maak die waterkarretjie vol water en laai Meraai se speelgoed. Die water tenkie by die kamp kort ‘n optop. Elk geval kan jy nooit genoeg water saamvat woestyn toe nie. Bo-op die karretjie kom ‘n klomp handige houtborde. Al oud en verweer hier op die buite kante – maar as die buite lagies afgewerk is – nog baie nodig vir kamp meubelering.

Terwyl die Meester na die rantsoen kyk, pak Meraai haar gereedskap en Sheela is nie agter met die pakwerk nie. Sy bring ook ‘n kartondoos aan. Wat sy daarmee wil maak sal net ‘n hondekind weet. Hond se gedagtes is mos nie mens gedagtes nie.

Pieter bel en hoor of ons by die huis is – toe hy hoor ons staan voet in die stibeuel oppad berge toe – sê hy net: “houvas – ek is nou daar”. En so kry die Trio ‘n gas wat saamry. Hoe meer siele – hoe meer vreugde.

Dis nodig om by die foto-boom te stop vir ‘n verversinkie en die gees is genoeglik. Meraai ry agter saam met Piet om hom bietjie meer agtergrond inligting te gee.

Maar ons het nog ‘n gas op hierdie toer. Ongenooid, en dis nie lank nie toe kondig Murphy homself aan. Piet skreeu net: “O Phok” en slaan brieke aan!

Voor ons het die waterkarretjie stomp teen die disselboom afgebreek. Die karretjie bokspring met sy 1 Ton plus lyfie soos ‘n jong bokkie en val homself te pletter in die pad. Meraai se speelgoed trek soos missiele deur die lug en val die hele pad vol. En daar lê die gebreekte karretjie en bloei 900 liter water op die stofpad uit.

Daar is ons sommer almal in ‘n depressie. Wat nou? Omdraai terug Uis toe om die wa te gaan haal om die karretjie te laai? Of eers kamp toe, hoop niemand kom strip intussen die wiele, haak en nuwe vere af nie?

Moedverloor se vlakte lyk skielik vreeslik na ons eie geliefde vlaktes.

Na redelike kontemplasie besluit ons om aan te beweeg kamp toe. Die pad is baie stil en ons sal maar net hoop vir die beste.

Soos dit soms gaan – verloop die trippie toe heel teen sy eie tempo en ons kom eers weer 10 dae later daar verby. Alles nog veilig en net soos ons dit gelos het.

Die reddingspoging is vandag afgehandel en die waentjie met sy disselboom is veilig by die huis. Selfs Meraai se houte is gelaai en veilig terug by die huis.

Meer oor die res van ons avonture in ‘n volgende artikel.

Vrede

One thought on “Nie elke reis is altyd voorspoedig nie!

  1. Vir die verbygangers lê hy daar. In hul gedagtes, verdorre stukkies houd met geroeste ysters wat ook lank geleë se storie kan vertel. N stukkie namib, te kosbaar om aan te raak. Dalk nog n paar fotos geneem om te hê vir altyd. Vir ander is dit dalk n gedagte, maar vir Vrede en sy hede, n stukkie goud wat hul vir n korte oomblik moes agter laat. N stukkie goud wat vir baie lank nog gaan pronk staan om sy meesters met 900 liter lewens belangrike vog op soveel verskilende maniere te bedien.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *