Voormense

Die Meester van Verdwaal, ek en die hond maak ‘n pitstop by die voormens prentjies.Gisteraand se oorskiet ribbetjie laat ‘n subtiele hardekool rook teen die palet en verf ons vingers en lippe blink met vet.

Die spore wat ons volg, raak dowwer en smaller. Pad raak 2 spoor en dan beland ons daar waar die spore so oud en dof is dat ons sug om verder te ry.

Ongerep en wild. Skoon en onverken lê die berge voor ons. Oeroue rivierlopies sonder name, skei en verbind die rooi basaltberge. Ons soek na tekens van mense. Daar is niks. As hier ooit mense was, was dit bitter lank gelede en dan moontlik te voet. Stilte soos jy net in die woestyn kan kry, hang heilig oor en rondom ons.

Selfs Sheela lê stil en rustig. Wakker ogies starend oor die vreemde, wye wêreld. Stadig kruip die cruizer oor die rooi klippe bokant die rivier se bank.

Volg nog ‘n lopie. Agterom ‘n losstaande koppie, en skielik in ‘n oop vlak. Blinkvet gemsbokke wei op groen opslag. Verbaas kyk hul op as hul die vreemde ding op die rand van hul vallei opmerk. Nuuskierig hou hul ons dop. Daar is geen vrees nie.

Ons neem foto’s en hulle posseer gemaklik voor die lens. Dan draai ons terug. Terug na waar daar spore is. Dis heilige grond die. Al wil ons meer sien, dieper in die hart van die wildernis inkruip, verder wegraak in die baarmoeder van die aarde, voel ons dat ons oortree.

Met vol harte en vêr gedagtes, droom ons hardop teenoor mekaar.

Anderdag sal ons terugkom…Meraai

2 thoughts on “Voormense

  1. Is mos net so… as jy daai iets ontdek waar jy weet draai om en maak jou spore dood…. dis heilige grond….. jaloers op julle twee……

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *