Sheela

By Aasvoël Motors in Doringdraadstraat, vind Vrede vir Sheela. Op daardie stadium was sy nog ‘n leerling mechanic met droopy ore en oliekolle op haar rug. Niks ouer as 2 maande nie.

Na ‘n ooreenkoms, ruil hy haar vir ‘n bottel brandewyn, en sy raak deel van ons gesin.

Watse bloed alles in haar is, sal ons net met DNA toetse kan vasstel, maar daar is onder andere pittie, lab en boerboel. O ja – en ook ‘n goeie skoot rifrug. So ons neem aan sy gaan redelik groot word.

Baie streng vertel Vrede my sommer van die begin af: –

“Hierdie is ‘n grondhond, nie ‘n skoothond of ‘n bedhond nie. Sy mag nie op die skoot, bed of banke nie.”

Aan die begin gaan dit goed, maar soos met meeste “good intentions” loop dit ook op ‘n fiasko uit.

Die fout kom toe sy die eerste aand in die veld saam met ons kamp. Haar eie persoonlike bed is ingepak, en lê by ons koppe, waar ons slaaprolle lê.

Die nag is koud en mistig en dit was nie lank nie toe kom besoek die jakkalse die kamp. Aangespoor deur die hardekool se rook en met die hoop om ietsie te aas.

Vrede moes vir Sheela vashou, want baie braaf wil sy die jakkalse aanvat. Soos ons mos weet sal hulle haar as baba hond sommer stomp opvreet met die eerste geleentheid.

Nou ja, daar moes sy toe nou in my arm in die slaapsak slaap, om seker te maak sy raak nie weg terwyl ons slaap nie, En af is die as …

Sy verstaan goed dat by die huis in Uis is die beddens en banke taboo, maar in die veld is en bly dit ‘n stryd. En soos die foto hieronder wys – is Vrede saam skuldig!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *