Die Meester van Verdwaal

Die cruizer is oud, stowwerig en spog met ‘n paar “battle bruises” wat van haar omswerwinge getuig. Aan die ander kant wys die goeie bande en die gladde spin van die enjin – soos ‘n tevrede kat – dat haar eienaar sy hand liefderik op haar hou.
 
“Ek is die meester van verdwaal” lig hy my in terwyl die passasiersdeur uitnodigend gaap. “So dink mooi voor jy inklim”, waarsku hy.
 
Sonder huiwering klim ek lings voor in en maak myself gemaklik.
 
Die cruizer sniffel gretig met haar neus in elke afdraai paadjie af. Dieper en dieper die berge in. Ligweg Wes, maar altyd deur Noord.
 
Die grein, kleur en gees van die berge kom val in ‘n diep, lankal vergete holte in my hart. Vaagweg, soos die newels van ‘n droom, omvou bekendheid my.
 
45 jaar terug se onthou lig haar kop en spring soos ‘n jong hond wat haas geruik het oor die cruizer se enjinkap. Sniffelneus draf onthou se hond voor haar die pad uit. Die cruizer volg gewillig.
 
Ek weet, sonder dat ek ooit hierdie pad gery het, presies waar dit heen gaan. My oë soek in die verte vir bekende bergpieke wat ons speelplekke net buite die myndorp aandui. ‘n Rivierloop wat Suid uit die dorp uitkronkel, was die Branberg Wesmyn kinders se gunsteling speelplek. Nou is ek al diep seker dat ons in hierdie selfde rivierloop is en vorentoe die myn gaan kry.
 
Die lag en gil van verbrande basaltkinders eggo tussen die berge. Kaalvoete sink in die sonverwarmde riviersand weg. Gelooide sole brand nie meer nie, maar die sawwe vel om die enkels laat jou hoogtrap soos ‘n rooihakskeen volstruis. Wilde kinders, woestyn kinders.
 
Onthou se hond hardloop nou oopbek in die wind. Rooi tong laggend, proe die lug en dan is ons daar, in wese waar my gees vooruit gehardloop het.
 
Jy het mooi verdwaal, sê ek vir hom.
 
Meraai
(Anderdag vertel ek verder van mynkinders en ‘n Batman grot.)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *